Explaining zero rated VAT
January 9, 2017
SARS releases new ruling on documentary requirements for VAT purposes
January 9, 2017
Show all

Die realiteite van die hedendaagse lewe word duidelik weerspieël in die toenemende afstande wat afgelê moet word om by die kantoor te kom, in verkeersophoping ens. Al hoe meer werkgewers bied dus deesdae hul werknemers die opsie om vanuit hul woonplek te werk. “Tuiskantore” het in die laaste tyd dramaties vermeerder. Dit is om hierdie rede nie verbasend dat ons ‘n toenemende getal navrae ontvang in verband met die belastingaftrekbaarheid van uitgawes verbonde aan tuiskantore nie. Tuiskantoor-uitgawes verwys in hierdie verband spesifiek na die kostes verbonde aan die besetting van ‘n bepaalde ruimte in ‘n woning met die doel om ‘n inkomste te verdien. Tipies sluit dit huur, rente betaal op ‘n verband, herstelwerk, instandhouding en verwante kostes in.

Beperkings op aftrekkings vir belastingdoeleindes word spesifiek behandel in artikel 23(b) van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962. Wesenlik bepaal dit dat tuiskantoor-uitgawes slegs in baie streng omstandighede aftrekbaar is, naamlik:

  • as die betrokke deel van die woning uitsluitlik en gereeld gebruik word vir die doel van die belastingbetaler se bedryf; en
  • op voorwaarde dat die ruimte wat so gebruik word ook spesifiek vir hierdie doel toegerus is.

Tuiskantoor-uitgawes is verder nie aftrekbaar waar die besigheid wat bedryf word emplojering of die bekleding van ‘n amp ( bv. as ‘n direkteur) behels nie, tensy:

  • óf die inkomste wat verdien word in die vorm van kommissie of ‘n soortgelyke vorm van veranderlike betaling is en op voorwaarde dat die pligte van die emplojering of amp wat beklee word uitgevoer word hoofsaaklik buite ‘n werkomgewing wat deur ‘n werkgewer voorsien word;
  • óf die emplojering en kantoorpligte, holisties beskou, hoofsaaklik in die aangewese deel van die tuiste uitgevoer word.

Sou enigeen van die voorgenoemde twee voorwaardes bevredig word,  is tuiskantoor-uitgawes aftrekbaar ongeag of die belastingbetaler ‘n werknemer of  die bekleër van ‘n bepaalde amp is. Let daarop dat artikel 23(m)(iv) nie ten doel het om aftrekkings vir tuiskantoor-uitgawes in groter mate te beperk as wat reeds kragtens  artikel 23(b) van toepassing is nie. (Artikel 23(m) funksioneer gewoonlik as ‘n bepaling wat ‘n ernstige beperking plaas op die belastingaftrekkings wat tot die beskikking van gesalarieerde individue is.)

Daar word ten laaste op gewys dat die voorgenoemde toetse gekoppel aan die toelaatbaarheid al dan nie van aftrekkings vir  tuiskantoor-uitgawes, objektiewe toetse is. Dit is bekend dat SAID uiters streng is met die toepassing van artikel 23(b). Die Wet op Belastingadministrasie, 28 van 2011, bepaal in artikel 102 dat die bewyslas om aan te toon dat ‘n aftrekking toegelaat moet word, op die belastingbetaler rus. SAID staan dus onder geen verpligting om enige van die vereistes wat nodig is om vir tuiskantoor-uitgawes te kwalifiseer, te weerlê nie. Die belastingbetaler moet eerder kan aantoon dat die ruimte wat ter sprake is uitsluitlik en gereeld vir besigheidsdoeleindes gebruik word en dat dit spesifiek vir hierdie doel toegerus is. Die belastingbetaler moet verder aantoon dat die inkomste wat verdien word hoofsaaklik bestaan uit ‘n veranderlike vorm van vergoeding en dat geen ander ruimte tot sy/haar beskikking is nie, of dat die dienste hoofsaaklik vanuit die aangewese ruimte tuis gelewer word.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Comments are closed.